Die Mercalli-intensiteitskaal, wat aanvanklik in 1902 deur Giuseppe Mercalli ontwikkel en later aangepas is, is 'n seismiese skaal wat gebruik word vir die aanduiding van die intensiteit van 'n aardbewing soos deur mense gevoel. Dit meet die uitwerking van 'n bewing op 'n spesifieke terrein, wat verskil van die aardbewing se inherente krag of sterkte soos gemeet deur skale soos die Moment-magnitude-skaal.
Hoewel bewing veroorsaak word deur die seismiese energie wat deur 'n aarbewing vrygelaat word, verskil aardbewings in hoeveel van hulle energie as seismiese golwe uitgestraal word. Dieper aardbewings het ook 'n kleiner interaksie met die oppervlak, en hulle energie word oor 'n groter volume versprei. Die intensiteit van die bewing verskil van terrein tot terrein, en is gewoonlik minder hoe verder dit van die aardbewing se episentrum af is. Dit kan egter versterk word in sedimentbekkens en sekere soorte grond.
Intensiteitskale kategoriseer die intensiteit van bewing geskoei op die uitwerking soos gerapporteer deur onopgeleide waarnemers en word aangepas vir die uitwerking wat in 'n spesifieke streek waargeneem is.[1] Deurdat nie van instrumente gebruik gemaak word nie, is hulle nuttig vir die raming van die magnitude en ligging van historiese aarbewings (voor die gebruik van instrumente). Die grootste intensiteit kom gewoonlik by die episentrum voor, en die graad en omvang daarvan (moontlik aangepas met kennis van die plaaslike geologiese toestande) kan met ander plaaslike aarbewings vergelyk word om die magnitude te raam.